Archived

Voorsitters Oorsig

1 Dec 2010

Ons strewe na goeie diens en uitnemendheid bly ‘n daaglikse verbintenis wat harde werk en toewyding verg van ons span onder leiding van Stephan Welz. Die gevolg is dat die jaar 2010 alle verwagtinge oortref het ten opsigte van omset, die behaling van rekords en die gehalte van besendings wat ons bevoorreg was om te hanteer.

Die totale omset vir die jaar is R187 miljoen. Hierdie resultate toon ‘n styging van 86% teenoor dieselfde tydperk verlede jaar, ons aanvangsjaar. Dit bevestig die groot aanvraag na top Suid-Afrikaanse kuns aangebied met Strauss & Kie. se stempel van gehalte en outentisiteit, nieteenstaande die onvoorspelbare ekonomiese klimaat. Ons markaandeel is die hoogste, nie net in Suid-Afrika waar ons sedert ons ontstaan die markleier is nie, maar ook wêreldwyd, ondanks ons laer kommissietariewe en koperspremie. Die laasgenoemde word outomaties by die hamerprys getel wanneer resultate in die media gepubliseer word.

review-2010-graph1

Irma Stern een van Suid-Afrika se mees gevierde kunstenaar, het ons veilings dwarsdeur die jaar oorheers. Haar meesterstukke het op die buiteblaaie van drie van ons vier katalogusse gepryk en twee van die grootste rekords behaal. Ons het verlede jaar hierdie tendens geïnisieer toe ons ons eerste rekord behaal het vir ’n stillewe van Irma Stern, Magnolias in ‘n Erdepot, wat vir R7 200 miljoen verkoop is. Dit is gevolg deur die hoogs suksesvolle verkoping van die betowerende portret van Carla. Skaars ses maande later het ons weer ‘n nuwe rekord opgestel – R7 480 miljoen vir Stillewe met Gladioli en Vrugte. Die hoogtepunt van ons jaar vol rekords was egter die R13 368 miljoen wat in Oktober vir Gladioli betaal is – die hoogste prys ooit vir enige Suid-Afrikaanse skildery op ’n veiling in Suid-Afrika.
 

""

Ons is ook trots op ons ander veilingsrekords vir kunstenaars soos byvoorbeeld Anton van Wouw, Maud Sumner, Pieter Wenning, Stanley Pinker, Walter Battiss, Cecil Skotnes en Jane Alexander. Meesterstukke van Pierneef en Maggie Laubser is soos gewoonlik op al die veilings deur ernstige versamelaars opgeraap met ‘n topprys van R7 575 miljoen vir Pierneef se Kremetartboom. Ons rekords wat verlede jaar opgestel is vir Kaapse meubels en silwerware deur Paul Storr wat in Suid-Afrika verkoop is, is nog nie oortref nie. Ons veilingpryse vir topgehalte antieke meubels, silwer en keramiek was oor die afgelope twaalf maande sterk.

Ons veilings was gekenmerk deur stampvol sale, ‘n elektriese atmosfeer en sterk mededingende bieëry. Hoogs belangrike werke uit privaat versamelings het van eienaar verwissel op veilings wat almal op een of ander wyse geskiedenis gemaak het. Benewens die bekende gesigte van ons lojale kliënte, was daar beslis ‘n toename in nuwe, aktiewe en mededingende kopers wat hernieude vertroue gebring het in ’n mark waar ’n groeiende getal rolspelers sterk ondersteuning bied.

Ons vertrou dat ons volgende jaar sal kan voortbou op die suksesse van 2010.
Ek wil graag hierdie geleentheid benut om al ons kliënte die heel beste toe te wens vir 2011 en hulle te bedank vir hul voortgesette ondersteuning.

""

Elisabeth Bradley
 


2010 Press Releases


December

November

October

September

August

July

June

May

March

February