Press Office
2011 Archive
- Dec 01. Chairman's Report 2011
- Dec 01. Art and Glass Sparkle at Strauss & Cos Cape Town Auction in February
- Nov 07. South African art records continue to be broken
- Oct 15. Gerard Sekoto at the Pinnacle of his Career
- Oct 14. Will tallest Sithole break new auction records?
- Sep 26. Strauss continues to set new South African art records
- Aug 29. Stunning Stern comes to the market
- Aug 23. Stunning Stern leads the field at Strauss & Co's Cape Town auction in September
- Jul 21. Over R718 000 raised for art bursaries at Michaelis
- Jul 05. ALUMNI AND STAFF EXHIBITION and AUCTION Michaelis School of Fine Art, University of Cape Town
- May 20. Greater Strength and Variety in the Art Market
- Apr 14. Good Value in Quality Art at Strauss & Co
- Apr 13. Pieter Wenning, an underrated artist
- Apr 01. Flower name raises over half a million
- Mar 16. Art beats JSE Index
- Mar 08. An expensive cup of coffee
- Feb 03. Two Early Cape Paintings
- Jan 28. Two milestones in South African Art back under the hammer
- Jan 21. Collectors spoilt for choice at Strauss & Co's Cape Town auction in March
Miljoene rande betaal vir Alexis Preller-kunswerke op Strauss-veiling
June 4, 2011 [ Archived ]
Twee van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Alexis Preller se olieverfskilderye op doek, Primavera, wat hy in 1956 geskilder het, en Stillewe met eiers, wat hy in 1948 geskilder het, het op die afgelope kunsveiling van Strauss en Kie. in Johannesburg onderskeidelik R2 116 600 en R1 114 000 behaal.
In Primavera kontraposisioneer Preller die Europese kulture met dié van Afrika met ’n sintese van die twee uiterstes midde-in. Stillewe met eiers herinner aan die Middeleeuse kuns van Hieronomus Bosch waarin ook elemente van sy oorlogservaring na vore kom. Hy het in die Tweede Wêreldoorlog in Noord-Afrika as noodhulpman in die SA Mediese Korps se 14de Veldambulanseenheid verrig, is krygsgevange geneem en tot 1944 in Italië gevange gehou. Sy blootstelling aan intense ervarings van lewe en dood het ’n blywende invloed op sy gemoed gelaat. Sy woning, Ygdrasil, deur sy vriend die argitek Norman Eaton ontwerp, verwys na die mitologiese boom wat die hemel, hel en aarde simboliseer. In Stillewe met eiers kom van hierdie elemente na vore.
Preller se vader, Herman Otto Preller, was ’n neef van die historikus Gustav Preller. Alexis is in 1911 in Pretoria gebore en het van 1932 tot 1934 kuns in Engeland aan die Westminster School of Art onder Mark Gertler studeer. J.H. Pierneef was indertyd ook ’n student daar.
Ná Preller se terugkeer het hy in Afrika rondgereis, onder meer in Swaziland, die Kongo en Egipte, om die verskeidenheid Afrika-kulture, vernaamlik die kunsverskeidenheid, te bestudeer. Sy oorlogsdiens in Noord-Afrika het hom ook met die kultuurverskeidenheid van die gebied in aanraking gebring.
In 1946 het hy in Europa rondgereis en die vernaamste kunsmuseums besoek. Die antieke Griekse, Romeinse, Etruskiese en Pompejaanse versamelings daar het hom veral aangegryp.
Die volgende jaar het hy die Ooskus van Afrika en die Seychelle besoek om die kultuurverskeidenheid aldaar te bestudeer. By sy terugkeer het hy ook die kuns, argitektuur en handewerk van die Mapoggers, ’n Ndebele-stam noord van Pretoria, en die rotskuns van die Boesmans bestudeer.
In 1954 het hy van sy kuns, waarin die antieke én Afrika-kuns sterk neerslag vind, by die Biënnale in Venesië ten toon gestel. Die volgende jaar het hy muurpanele in die kantoor van die belastinggaarder in Johannesburg voltooi, waarvoor die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n erepenning aan hom toegeken het. In 1956 het hy 12 skilderye by die Biënnale in Venesisië ten toon gestel, waarna hy uitgenooi is om ’n uitstalling in Rome te hou.
Va 1959 tot 1963 het Preller ’n muurpaneel in die William Nicol-kamer van die Transvaalse Provinsiale Administrasie geskilder. Hierdie skildery, Die ontdekking, word as die hoogtepunt van sy loopbaan as skilder beskou. Dit beeld die ontdekking van die seeroete om Afrika en die daaropvolgende ontwikkeling tot die moderne era aan die suidpunt uit.
In 1968 het hy Griekeland en Turkye besoeke om die kuns en kulture aldaar te bestudeer. In 1975 het hy sy laaste kunsuitstalling gehou. Hy is in dieselfde jaar oorlede.
Die biograwe F. van Schalkwyk en J.R. Deichmann bestempel Preller in die SA Biografiese Woordeboek as ’n toegewyde en gedissiplineerde kunstenaar wat verkieslik alleen gewerk het. Sy werk is individualisties en die inhoud van sy skilderye is misterieus en simbolies. Die vertolking daarvan deur ander is dikwels aanvegbaar, skryf hulle. Hy is op sy plaas Dombeya, naby Brits, waar hy alleen gewoon het, begrawe.






