Press Office

Veiling van Tretchikoff vestig ook aandag op tentoonstelling

Een van Vladimir Griegorovich Tretchikoff (1913-2006) se figuurstudies, 'n Staande vrou met 'n groen hooftooisel, is Maandagaand 16 Mei op die herfsveiling van die oudhede- en kunsafslaer Strauss & Kie. in Johannesburg vir R423?320 verkoop, binne die geraamde veilingswaarde van R300?000 tot R500?000.

 

Die behaalde prys is ’n goeie aanduiding van die gewildheid van Tretchikoff se werke – vyf jaar ná sy dood in 2006 – en vestig daarmee ook die aandag op die komende Tretchikoff Retrospektiewe Tentoonstelling wat teen ’n koste van meer as R3 miljoen van aanstaande Donderdag, 26 Mei, af tot 25 September in die Iziko SA Nasionale Kunsgalery (Sank) in die Kompanjiestuin in Kaapstad aangebied word.

Die tentoonstelling sal die eerste van ’n keur van sy werk in dié openbare museum wees.
Hy was die eerste kunstenaar in Suid-Afrika wat reproduksies van sy werk teen bekostig¬bare pryse aan die algemene publiek verkoop het – en ’n baie vermoënde man geword het. Sy werk was in ’n stadium so gewild dat slegs van die Spaanse kunstenaar Pablo Picasso se kuns meer reproduksies verkoop is.

Dit is ’n interessante verskynsel in die Suid-Afrikaanse kunswêreld dat hy vandag steeds, soos in sy leeftyd, ’n omstrede figuur is. Daar blyk ’n sekere ongemak met sy werk te wees wat aan die een kant as kitch en aan die ander kant as ikoniese werke wat ’n idiosinkratiese siening, grensend aan die surrealistiese, verbeeld, beskryf word.
Onder die jonger geslag kunstenaars en kritici is daar ’n groter openheid vir sy werk, wat selfs as uitdagend gelees word: Tretchikoff is in sy leeftyd uit die kuns-establishment geweer om redes wat nie suiwer op kunsmeriete gegrond was nie.

Dat hy nie tot die “regte kringe” behoort het nie, het klaarblyklik ’n bepalende rol gespeel. En dat hy buite die binnekring sukses behaal het, het nie in die klere van sommige “gesanksioneerde”, maar minder suksesvolle – minstens gemeet aan getalle by tentoonstellings en verkope – kunstenaars gaan sit nie. Dit is ’n scenario wat vandag steeds geleenthede in die kunswêreld – en pryse op kunsveilings – tot in ’n hoë mate bepaal.
Die komende Tretchikoff-tentoonstelling sal hopelik deurdagte antwoorde op eeue-oue vrae verskaf: Wat is goeie kuns? Is daar universele kriteria wat vir alle tye geld, naas kriteria wat oor tyd verander? Beteken gewildheid – toeganklike ikonografie, illustratiewe, narratiewe aanbod, waarvan Tretchikoff se werk ’n voorbeeld is – noodwendig minderwaardige kuns?

Riason Naidoo, direkteur van kunsversamelings by die Iziko Museums, sê met die tentoonstelling wil oplaas erkenning aan Tretchikoff as prominente kunstenaar in die geskiedenis van die land gegee word, en terselfdertyd ook erkentlikheid getoon word teenoor die miljoene mense wat sy werk waardeer. Dié uitspraak weerspieël die visie en missie van Iziko Museums wat, ¬onder meer, bepaal dat die museums in die ¬samestelling van adviserende komitees uiteenlopende menings en verteenwoordiging van uiteenlopende kultuurgroepe in ag sal neem.
Andrew Lamprecht, kunslektor aan die ¬Universiteit van Kaapstad en kurator van die tentoonstelling, sê Tretchikoff is ’n belangrike figuur in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse en wêreld-kuns, en om hom te ignoreer gaan sy kuns nie laat verdwyn nie. Die tyd het aangebreek dat sy werk krities beoordeel word en oor sy regmatige plek in die kunsgeskiedenis herbesin word.

Verskeie werke uit private versamelings sal te sien wees. Oor Tretchikoff se tegniese vermoëns is min twyfel. Dat sy werk dikwels op sentiment fokus en neerslag vind in wat as emosionele kleuruitbarstings beskryf kan word, is juis wat baie kunskykers aantreklik vind, ’n soort visuele katarsis van eie emosies. Ander, weer, sou ’n meer konseptuele benadering, ’n dieper ontleding in kleur en vorm van sy onderwerp intellektueel uitdagend vind. Hoe ook al, Tretchikoff laat niemand onaangeraak nie.

Die borge van die tentoonstelling is die Rupert Stigting, die Chinese ambassade, die departement kuns en kultuur, die Stad Kaapstad, die Tretchikoff Stigting, Elliott’s Interna¬tional, GAC Laser, Lemnis Lighting en Iziko Museums.


 

Jewellery Week

Jewellery auctions are held twice a year in Cape Town, in conjunction with visits by international jewellery expert Joanna Hardy

Stephan Welz

South Africa's leading fine art expert and auctioneer.

Videos & Commentary from Stephan Welz

Informative video footage and commentary by Stephan Welz and colleagues.

What is my painting or work of art worth?

Our experts are at your disposal to promptly supply you with estimates.

Thinking of Selling?

Strauss & Co's team of esteemed experts can help you. Please contact us for an obligation free appraisal.

Subscriptions

If you want to keep abreast of the top end of the SA art market, our catalogues are essential reading.