Press Office

Pierneef se Bosveldbome simbolies van lewe

Die Bosveldbome wat so 'n belangrike plek in die skilderye van Jacob Hendrik Pierneef (1886-1957) beklee, was vir hom simbolies van lewe van die kosmos. Hy het soveel aandag en noukeurigheid aan elke boom bestee, dat elke soort duidelik van die ander onderskei kan word. Dit was nie net bome wat hy geskilder het nie, maar wel spesifieke boomsoorte. En dit is duidelik dat hy 'n grondige kennis van daardie bome gehad het.


J H Pierneef Boabab Tree

Een van sy verskeie skilderye waarin reusagtige kremetartbome, net soos in die natuur, die sentrale posisie inneem, word op 1 November by die Johannesburg Country Club in Woodmead deur Strauss & Kie. opgeveil. Die skildery, Kremetartboom, Pretoria, Transvaal, 1946, is in olieverf en beslaan 75 cm x 100,5 cm.
In die skildery word verskillende boomsoorte uitgebeeld met die kremetart (Adansonia digitata) sentraal net links van die middellyn. Op die voorgrond is ’n grondpad in geel-oker. Die oorheersende kleur van die dekgrasveld en bome is pastelagtige skakerings van oker. Die diepblou berge op die agtergrond kontrasteer sterk daarmee. Die lug, in die tipiese Pierneefstyl, beeld verskillende soorte Bosveldse somerwolkformasies, soos Cumulonimbus, heel regs, en cumulus en stratus, links, uit, afgewissel met strepe blou lug.

Die bekende boomkundige van die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin, mnr. Ernst van Jaarsveld, het op versoek van Strauss & Kie. die volgende bome in die skildery geïdentifiseer: Links van die kremetart staan ’n sambreelvormige haak-en-steek doringboom (Acacia tortilis), en knap regs van die boabab staan ’n witgatboom (Boschia albitrunca), met sy kenmerkerkende liggroen lower en wit stam. Heel regs op die skildery staan ’n bergkaree (Rhus leptodictya) met sy krom takke. ’n Regopgroeiende boekenhout (Faurea saligna) staan regs. Op die agtergrond is boswilge (Combretum), allerlei doringbome (Acacia), en ’n wisteria (Bolusanthus speciosus).

Die boom beklee ’n baie besonderse plek in die lewe van die mens. Dit is simbolies vir die menslike uitreiking vanaf die aarde na die hemel, en dus religieus. Ook verteenwoordig dit die geskiedenis en genealogie van die familie-eenheid, beter bekend as die familie-stamboom. Bome bied skuiling en broeiplek vir diere en voëls, en die vrugte, blomme, saad, hout en bas van bome is tot groot nut van die mens – van voedsel en medisyne tot geurmiddels, broumiddels, versiersels, werktuie, wapens, meubels en brandstof vir verhitting. En baie belangrik, soos Pierneef dan ook aantoon, vervul bome ’n baie sterk estetiese rol in die menselike leefwêreld vir die verryking van die gees. Waar die werklikheid van ’n Bosveldtoneel, byvoorbeeld vir die stedeling, ontbreek, is ’n mooi skildery van bome in die natuur ’n goeie troosmiddel. En sommige mense, beleggers uitgesluit, is bereid om baie geld dáárvoor te betaal.

Die Pierneef-skildery wat tot dusver die hoogste prys op ’n veiling behaal het, was juis een wat ’n kremertart uitbeeld. Die Kremetartboom , 1934, is in 2008 vir R11,8 miljoen deur Bohams van Londen opgeveil. Stephan Welz en Kie. het in Oktober verlede jaar by Kirstenbosch, Kaapstad, R3,136 miljoen behaal vir Pierneef se Kremetartboom, Bosveld, Messina, 1946.

 

 

Jewellery Week

Jewellery auctions are held twice a year in Cape Town, in conjunction with visits by international jewellery expert Joanna Hardy

Stephan Welz

South Africa's leading fine art expert and auctioneer.

Videos & Commentary from Stephan Welz

Informative video footage and commentary by Stephan Welz and colleagues.

What is my painting or work of art worth?

Our experts are at your disposal to promptly supply you with estimates.

Thinking of Selling?

Strauss & Co's team of esteemed experts can help you. Please contact us for an obligation free appraisal.

Subscriptions

If you want to keep abreast of the top end of the SA art market, our catalogues are essential reading.