Press Office

Welz en die 'vloek van veilings'

Met die intrapslag deel een van Suid-Afrika se voorste afslaers en kunskenners 'n storie wat iets vertel van die betowering van sy wêreld.


Stephan Welz in die iutstallokaal van Strauss & Kie. in Houghton. Agter hom hang twee Pierneefs.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Tussen die ander kunswerke (die Pierneefs, die Sterns, die Kentridges) wat op die afslaer Strauss & Kie. se volgende veiling opgeveil gaan word, is twee pragtige landskappe van Pieter Wenning.

 En dit is veral húlle wat Stephan Welz se oë – wat dieselfde skakering ligblou is as diewolke van die Pierneef agter hom – laat vonkel.

“In Februarie 1919 was Wenning se vrou baie siek en symoes ’n histerektomie ondergaan en hy was bankrot. Wenning vat toe net oor die 30 skilderye na die afslaer Ernest Lezard toe om ’n bietjie geld bymekaar te kry. Die veiling was nié ’n reuse-sukses nie, maar hy het darem ’n bietjie meer as £200 gekry. Sy vrou is letterlik drie,
vier dae ná die operasie oorlede.

“Twee van die skilderye is gekoop deur Gordon Tomlinson, die broerskind van M.E.R. Hy betaal toe wat destyds glo die hoogste prys vir ’n Wenning was. Hy het £15 elk betaal.”

Ná sy dood het Tomlinson se groot kunsversameling nie as ’n eenheid behoue gebly nie. Werke het nuwe tuistes gekry. Ook die twee Wennings.

“Hierdie jaar was ek in Oos-Londen en ’n dame bring toe vir my een.Dis toe die een met dieUniegebou en die brug oor die Apiesrivier. En ek moet sê ek was . . . Ag dis lekker as jy weet van ’n skildery en hiér is hy. Behalwe dat dit ’n miljoen rand plus is. Dítmaak vir my ook bly, moet ek eerlik sê.” Hy lag. “En wrágtig, twee weke later is
ek in die Marine Hotel in Hermanus, weer besig om skilderye te kyk, en ’n vrou loop in, onbewus van die vrou in Oos-Londen, met die tweede Wenning. So nou, 60 jaar later, bring ons hulle weer bymekaar.”

Hy hoop hulle word deur een mens gekoop en dat hulle “weer saam deur die lewe voortgaan”.

Dit is dikwels traumatiese omstandighede wat mense laat afstand doen van hul kuns. “Ek sê altyd  grappenderwys: I’m in the 3D-business: death, debt and divorce. Dit is basies waar oor my lewe gaan. Ná die dominee en die dokter is ek die volgende persoon daar, so te sê. Ek dink wat gebeur het, is dat met ons inflasie
van die laaste 20, 30 jaar bevind baie mense wat gemaklik afgetree het 20 jaar gelede, hulle nou in ’n baie moeilike situasie. En hulle moet afskeid neem (van kuns). “Gelukkig het kunspryse in die meeste gevalle tred gehou met inflasie. En selfs beter. Maar jy neem moeilik afskeid van daar die Irma Stern – dít kan ek jou  verseker.

“Partykeer is daar trane. Partykeer is die mense nie dáár as ons die skildery kom haal nie. Hulle wíl nie daar wees as daai ding gebeur van hom van die muur afhaal en in ’n kombers toedraai en hom in die kar laai nie. En ek kan dit verstaan.

“En dikwels is dit die oorlewende. Hulle het dit dalk saam met die ander mens gekoop. Daardie skildery
was deel van hul hele lewe. En elke skildery het ’n storie, nè? ” Welz stel mense “9 uit 10 keer” teleur.

“Dan het die persoon nou êrens ’n uitknipsel uit ’n koerant van 10 jaar terug waarin staan die kunstenaar
is hoog geprys. Of nog érger – hulle was Hartebeespoortdam toe en het daar in een van die kunsgalerye gesien hoeveel hulle vra, en nie besef daar is ’n groot verskil tussen wat daai galery vra en wat jy gaan krý as jy daai skildery verkoop nie.”

Dit gaan oor bemarking. “Ek moet absoluut eerlik wees: dit gaan oor bemarking. Jy moet persepsies skep. Jy moet verwagtinge skep. Want basies: jy koop R10 se doek en hout, is dit nie? Jy kan dit nie eet nie. Dit lewer nie ’n inkomste nie.” Hy bly ’n oomblik stil.

“In die laaste tyd het ons beleef dat daar ’n hérontdekking is van vergete kunstenaars. Wat in die mark gebeur, is hy skiet weg en skielik haal ’n Pierneef 12, 13 miljoen of ’n Irma Stern haal 8 of 9 miljoen. Almal sit dan terug en besef: as ek ooit aspirasies gehad het om ’n mooi Pierneef of Irma Stern te besit, kan ek dit nou vergeet. En jy gaan kyk dan na wie is daar nog. Dan skielik besef jy hier is dan byvoorbeeld Freida Lock – nie vêr agter Irma Stern nie. En vyf jaar terug kon jy ’n Freida Lock vir R60 000, R70 000 koop en sy trek nou by R1,7 miljoen.”

Ons sit in ’n vertrek by die afslaers se kantore in Houghton, Johannesburg. My jong kollega Lauren Mulligan, wat beeldende kuns aan Wits studeer het, wonder waar skilderkuns vandag inpas. Gaan dit uitsterf?
“As jy in ag neem dat skilder ’n vaardigheid was – die man wat die prente geverf het, is dieselfde geag as die man wat die meubels gemaak het. Hierdie hele ding van om intellektueel te wees, is ’n moderne uitvindsel.

“Om jouself as kunstenaar te verewig, moet jy iets van blywende gehalte skep. Tien generasies later moet dit nog bestaan. Elke generasie gaan dit in die tande skop, want elke generasie moet dit verminder, want om bo uit te kom moet jy ander uit die pad uit stoot.

“Maar die geskiedenis . . . gelukkig . . . die heel beste van wat uit die pad gestoot is, bons terug. So Shakespeare sal áltyd Shakespeare wees. Wilbur Smith sal verdwyn; Enid Blyton sal verdwyn, dit is alles nostalgie . . . ook hierdie soort ding.”

Een van sy groot hande maak ’n ongeduldige beweging in die rigting van ’n realistiese olieverflandskap. “Baie van die kuns wat vandag geskep word, gaan net weens die aard van die materiaal waaruit dit geskep is, nie hou nie. Digitale afdrukke – dit maak nie saak hoe goed die papier en ink is nie – sal seker nie eens langer as ek bestaan nie.” Hy is 67 jaar oud.

Nou praat hy oor die verskil tussen ’n prentjiemaker en ’n kunstenaar. “Die een gee jou niks ekstra nie en die ander een gee jou gewéldig baie ekstra. Die een kan ’n landskap distilleer en hy kan vir jou ’n ander visie gee wat eintlik aksentueer waarna jy kyk. Terwyl die ander een bloot . . . jy kon ’n foto geneem het. Hy het niks bygedra nie en hy gaan gewoonlik vir daardie sentimentéle, soetsappige situasie waarvoor jy gou moeg word.
“Jy wil eintlik elke oggend gaan kyk na ’n skildery en iets anders daarin sien.”

Sy eie smaak is uiteenlopend. “Dit is werke wat ek langs die pad mooi gevind het. Ek het ’n Oerder, ek het ’n Erich Mayer, ek het ’n Freida Lock, ek het ’n Florence Zerffi, ek het ’n John Dronsfield. Dit is mense wat vir my iets beteken het.

“John Dronsfield was baie na aan Cecil Higgs. En een van die dinge wat my báie getref het as ’n kind . . . John Dronsfield het selfmoord gepleeg deur uit die blok woonstelle oorkant die nasionale kunsmuseum te spring.”
Hy besit ook werke deur sy pa, die groot kunstenaar Jean Welz. Dit is bekend dat Welz geïrriteerd is met die uitbeelding (deur, volgens hom, veral Engelssprekendes) van die skilder J.H. Pierneef as ’n tipiese kolonialis of as iemand wat deur sy kuns Afrikaner-nasionalisme wou bevorder. Hy beskou hom eerder as ’n liberale vrydenker.

Op die tafel lê ’n rooi lêer. Daarin is sensuele, selfs hoogs erotiese, skeppings van Pierneef. En hartstogtelike briewe. Hy glimlag. “Ek is darem baie gelukkig in hierdie argument. My pa was ’n Oostenryker en my ma (Inger, ’n kunshandelaar) was ’n Deen, so ek kan my geneties op absolute Europese afkoms roem.

“Ek is getroud met ’n ware Afrikaanse vrou. Ek voel ek is ’n kind van Afrika in dié opsig dat ek hier gebore is. Maar ek voel ook ek staan lós van jou Engels-Afrikaanse geskille en verskille in die Suid-Afrikaanse situasie. So ek voel half ek kan buite staan en kommentaar lewer.”

Welz het sy eerste lewenslig aanskou in die huis in Worcester van die kunstenaar Hugo Naudé. “My pa was toe net aangestel as hoof van die skool wat daar gestig is ná Hugo Naudé se dood. My ouers was gemoeid met Naudé se boedelveiling, en ek is gebore op die dag van die veiling, wat beteken het my ma kon nie veiling toe gaan nie en sy was, ek glo, baie bitter daaroor.” Hy lag. “En het ’n vloek op my geplaas dat veilings my nagmerrie sal wees vir my hele lewe.”

Ja, Welz is sinoniem met veilings. Hy was ’n direkteur van Sotheby’s in Londen en lank dié gesiene afslaer se enigste verteenwoordiger in Suid-Afrika. Hy het sy maatskappy Stephan Welz  & Kie. ’n aantal jare gelede verkoop.

Maar dit was nie lank nie voordat veilings weer deel van sy lewe geword het. Dr. Conrad Strauss, voormalige voorsitter van Standard Bank, het Welz in 2008 oorgehaal om hom by hom en die formidabele sakevrou Elizabeth Bradley se maatskappy Strauss & Kie. aan te sluit.

Ons praat oor sy kinderjare in Worcester. Hy was van kleins af omring deur kuns en kunstenaars. “Op vier is ek blootgestel aan kyk na kunswerke. In daai boek oor my pa (The World of Jean Welz van Elza Miles) is daar ’n mooi foto van my pa waar hy kyk na sy studente se werk. Ek is so ’n klein outjie met groot ore. Die jare het hulle net groter gemaak.”

Welz lag en staan op om die boek te kry. Hy is ’n kremetart van ’n man – ’n lang, imposante figuur. Op die foto staan die blondekopseuntjie Stephan voor sy pa se bene. Iets buite die foto trek sy aandag. Hy kyk agtertoe op die oomblik dat die foto geneem word.

“Daar is ek saam met my pa en ek kyk na kunswerke. So dit was vir my ’n doodnatuurlike ding. Die meeste kunstenaars was by ons aan huis, en by ons aan huis vir ’n perióde. Al die Kaapse kunstenaars beslis. Die Transvaalse kunstenaars . . . Pierneef was by een geleentheid daar. Ek het ’n herinnering van hom toe ek nege of tien was. Cecil Higgs was baie lief vir my – gelukkig. So ek het skoolvakansies by haar deurgebring. Toe het sy nog in Seepunt gebly in Worcester Road. Irma Stern . . . Gregoire Boonzaier, you name it – hulle was maar net deel van die kring. Jy besef dit nie in daai stadium nie, maar ek glo jy absorbeer tog, jy luister tog.

“Jy leer hulle ken as mense en jy leer . . . Ek dink baie min mense verstaan Gregoire byvoorbeeld. Ja, goed en wel, hy het in ’n gemaklikheidsgroef beland later in sy lewe wat baie jammer is. Jy weet Distrik Ses (’n gunsteling-onderwerp) het maklik gekom . . . jy kan kritiek daaroor lewer. Maar in die beginjare was hy ’n baie belangrike figuur in die kunswêreld.” Hy lag.

“Miskien as ’n mens ouer word, word hierdie gemaklikheidsding baie maklik. Jy wil nie meer konfronteer nie. Jy wil nie meer verander nie. Hoekom sal ek nou? ’n Mens moet eintlik oppas daarvoor. Ek is baie bewús daarvan.” Hy is ook aan groot literêre figure blootgestel.

“Dat ek in my twintigs kon bysit as my pa en Van Wyk Louw praat oor kuns en die digkuns en hoe hulle koppel met mekaar. Fantástiese geleenthede. “M.E.R! Om by te sit toe my pa portrette van M.E.R. maak en deel van daardie gesprek te word . . . Boerneef. Dis almal mense wat die deur vir my oopgemaak het.

“En wat vir my gelukkig is, is dat dit nooit weer toegegaan het nie.”

Oop Kaarte - Die Burger
 

Jewellery Week

Jewellery auctions are held twice a year in Cape Town, in conjunction with visits by international jewellery expert Joanna Hardy

Stephan Welz

South Africa's leading fine art expert and auctioneer.

Videos & Commentary from Stephan Welz

Informative video footage and commentary by Stephan Welz and colleagues.

What is my painting or work of art worth?

Our experts are at your disposal to promptly supply you with estimates.

Thinking of Selling?

Strauss & Co's team of esteemed experts can help you. Please contact us for an obligation free appraisal.

Subscriptions

If you want to keep abreast of the top end of the SA art market, our catalogues are essential reading.