In the News

Japanse Shippo yaki en ginbari op veiling

Onder die groot verskeidenheid Oosterse kunsware uit die versameling van wyle prof. Walter Beck, bekende hartspesialis, wat Strauss en Kie. op 6 Februarie by The Vineyard Hotel in Nuweland gaan opveil, is nagenoeg 50 twintigste-eeuse Japanse vase, versier volgens die ginbari- en Shippo yaki-emaljeringstegnieke.

 

Shippo yaki, in die Weste bekend onder die Franse benaming cloisonné, behels dat die versieringsontwerp op ’n kunsvoorwerp met dun draadjies geelkoper of silwer (yusen) nagetrek word om selle, soos in ’n byekorf, te vorm. Emalje-pasta van fyngemaakte kwarts, rooilood en natrium of potas word dan in die selle geplaas en die voorwerp in ’n oond gebak. Die gebakte pasta verander in glas, wat gepoleer word.

Verfyning van die tegniek behels onder meer dat die metaaldraadjies verwyder word (musen) voordat die bakproses begin. Ook word met ’n verskeidenheid grondstowwe geëksperimenteer om verskillende kleure teweeg te bring.

Die ginbari-tegniek behels die gebruik van silwer foelie as grondlaag waarop die emaljeringspasta aangebring word voordat dit gebak word. Die silwer verskaf ’n glansonderlaag aan die gebakte emalje en aksentueer die deurskyngehalte daarvan.

Die motiewe wat tradisioneel deur die Japanners verkies word, is veral sekere soorte plante, blomme, voëls en diere met groot simboliese betekenis in die onderskeie Oosterse kulture, hoofsaaklik geïnspireer deur die Boeddhisme en Taoísme.

Die Japanse emaljeringstegnieke dateer vermoedelik reeds van die 7de eeu. Die burgerlike Taiho-kode van die 8ste eeu verwys na die gebruik van metale en geverfde glas in die versieringskuns. Vermoedelik het die kunstegniek getaan, want eers in die 17de eeu word dit weer bekend gestel deur Donin Hirata I (1591–1646) van Kyoto wat die kuns by Koreaanse kunstenaars afgeleer het.

’n Indertydse Japanse militêre heerser (Shogun), Tokugawa Ieyasu, het Hirata gefinansier om die Katsura-paleis in Kyoto te versier. Hirata se nakomelinge het die kuns as ’n familiebedryf tot die einde van die 19de eeu voortgesit.

In die 1800’s het ’n ander Japanse kunstenaar, Kaji Tsunekichi (1803–83), in Nagoya ’n suksesvolle Shippo yaki-emaljeringsbedryf op die been gebring en hul ware na die Weste uitgevoer. Hy het aanvanklik geelkoper vir die selnetwerk en ondeurskynende emalje gebruik, maar het mettertyd ook met silwerdraadjies en ander bestanddele geëksperimenteer en daarin geslaag om die emalje helder en deurskynend te maak.
In die laat 1800’s het Namikawa Sosuke ’n emaljeringsfabriek in Tokyo begin, en Jubei Ando een in Nagoya. Albei was besonder produktief en ekonomies suksesvol. Weens die massaprodusering van die ware het die kunsvorm egter ietwat agteruitgegaan omdat die individuele stukke nie meer die noukeurige aandag van die kunstenaar geniet nie.

Desnieteenstaande is die kunsvorm steeds besonder aantreklik en versamel kunsliefhebbers dit graag.
Die veilingswaardasie van dié Japanse stukke in die Walter Beck-versameling wissel van R1 000 tot R7 000.
 

Jewellery Week

Jewellery auctions are held once a year in conjunction with visits by international jewellery expert Joanna Hardy

Subscriptions

If you want to keep abreast of the top end of the SA art market, our catalogues are essential reading.

Videos & Commentary from Stephan Welz

Informative video footage and commentary by Stephan Welz and colleagues.

Stephan Welz

South Africa's leading fine art expert and auctioneer.

Thinking of Selling?

Strauss & Co's team of esteemed experts can help you. Please contact us for an obligation free appraisal.

What is my painting or work of art worth?

Our experts are at your disposal to promptly supply you with estimates.