In the News
2011 Archive
- Oct 01. Pierneef se Karoo van 1930 haal R1 225 400
- Sep 28. Preller se baaiendes behaal miljoen
- Sep 28. Irma Stern's Two Arabs
- Jun 04. Miljoene rande betaal vir Alexis Preller-kunswerke op Strauss-veiling
- May 21. Veiling van Tretchikoff vestig ook aandag op tentoonstelling
- May 15. Geheimsinnige tjellis in Stern se skildery ná 68j. geïdentifiseer
- May 14. Irma Stern se 'tjellis' was superster Vera Poppé
- May 07. Villa se dood 'sal veilingspryse nie opjaag'
- May 07. Strauss auction could reflect shift of emphasis in SA art market
- May 06. Stern Painting to re-emerge at last
- Mar 12. Kaapse silwer haal beste pryse op veiling
- Feb 26. Moses Kottler se makette op veiling te koop
- Feb 25. Versamelaars gaan te veel hê om van te kies by Strauss & Co se Kaapstad-veiling in Maart
- Feb 19. Boonzaier en Baxter gooi reddingsboei na Wenning
Villa se dood 'sal veilingspryse nie opjaag'
May 7, 2011 [ Archived ]
"Die afsterwe op 1 Mei in Johannesburg van die Italiaans-Suid-Afrikaanse beeldhouer Edoardo Villa op 95 jaar gaan waarskynlik geen invloed op die veilingswaarde van sy kunswerke hê nie. Normaalweg sou 'n mens verwag dat dit die hoogte gaan inskiet, maar die bejaarde Edoardo het jare gelede al ophou skep en die mark het dit lankal reeds vir lief geneem." Só het mnr. Stephan Welz van Strauss en Kie. kommentaar gelewer oor die tyding dat Villa oorlede is
“Daar was weliswaar oor die afgelope twee jaar ’n sterk styging in die pryse wat sy beeldhouwerke op veilings behaal het. Daar kan aangevoer word dat dit toe te skryf is aan die verwagting dat hy nie meer baie lank sou leef nie. Dit was egter opmerklik dat dit juis die werke was wat hy in sy jonger jare geskep het, wat so gewild geword het,” het Welz gesê.
Op die komende oudhede- en kunsveiling van Strauss en Kie. op 16 Mei by The Country Club in Woodmead, Johannesburg, kom elf van sy kleiner werke, wat van 1962 tot 1995 ¬dateer, aan bod. Die waardasies wissel van R20 000 tot R1,2 miljoen.
Een van sy werke, hierby afgebeeld, ’n Brandwag, 215 cm hoog, word op R1,2 miljoen gewaardeer. Dit dateer van 1966, die jaar toe Villa prominent bekend gestel is in die prestigeryke kultuurtydskrif Lantern, wat deur die destydse departement van nasionale opvoeding uitgegee is. Hy was toe al in Europa bekend, maar nie in Suid-Afrika nie.
Onder Villa se bekendste openbare kunswerke is Die Knoop van 1981 voor die burgersentrum in Kaapstad, asook verskeie werke op die kampus van die University of Johannesburg, voorheen die Randse Afrikaanse Universiteit, in Auckland Park. Ander werke is in die versamelings van al die vernaamste kunsmuseums in die land opgeneem of word in private tuine ten toon gestel.
Edoardo Daniele Villa is op 31 Mei 1915 in Bergamo in die noorde van ¬Italië gebore. Hy het sy opleiding as beeldhouer aan die Scola d’Arte ¬Andrea Fantoni ontvang van kunstenaars soos Minotti, Barbieri en Lodi.
Hy het in 1940 as krygsgevangene na Suid-Afrika gekom en is tydens die Tweede Wêreldoorlog in die Zonderwater-gevangenis buite Cullinan geïnterneer.
In die Zonderwater-kamp, waar 90 000 gevangenes aangehou is, het die bevelvoerder, kol. Hendrik Frederick Prinsloo, toegelaat dat Villa kunsklasse aanbied.
Gedurende die interneringstydperk moes krygsgevangenes paaie, brûe en tonnels bou, geboue, huise, kerke en kapelle oprig. Talle moes op plase werk en ander is in die vervaardigingsektore opgeneem.
Villa het die geleenthede wat Prinsloo hom gebied het, ten volle benut. Teen die einde van die oorlog het hy besluit om in Suid-Afrika aan te bly. Dié wêreld was in vele opsigte oop, ruim en vry – in teenstelling met Europa se beperkende, uitgediende en kloustrofobiese atmosfeer, het hy gesê.
In 1953 het twee ander buitelanders, Vittorino Maneghelli, ook van Italië, en Egon Guenther, van Duitsland, Villa bygestaan om sy kuns te ontwikkel. Hulle het hom aangemoedig om in 1956 as Suid-Afrikaanse kunstenaar aan die Biennale in Venesië onder die vaandel “Die Stem van Jong Suid-Afrika” deel te neem. In 1958 en 1964 het hy weer daaraan deelgeneem en so wêreldwye bekendheid verwerf. ’n Ere¬doktorsgraad van die Universiteit van Pretoria is aan hom toegeken.






