In the News

Kaapse silwer haal beste pryse op veiling

Sewe belangrike voorwerpe van Kaapse silwer wat vandeesweek op Strauss en Kie. se oudhedeveiling in die Vineyard-hotel in Nuweland onder die hamer gekom het, het versamelaars gaande gehad en meer as 1,5 miljoen is daarvoor betaal.

Vir die Du Plessis-versameling van vier stukke (waaroor verlede week in hierdie rubriek geskryf is) is altesame R1 144 437 betaal. Nog drie ander stukke het altesame R362 050 behaal.

Soos verwag is, het die Du Plessis-versameling se koffiepot en suikermandjie, albei van die 1700’s en met die handelsmerk HNS daarop, die beste pryse behaal met onderskeidelik R512 400 en R490 160. Die ander twee Du Plessis-stukke, naamlik die suikerbakkie met sy versierde deksel wat Gerhardus Lotter in die vroeë 1800’s gemaak het, het R133 680 behaal, en die bekertjie, ook in die vroeë 1800’s gemaak deur John Townsend, het R8 197 behaal.
Die silwerware was vyf geslagte lank in die besit van die familie Du Plessis van Stellenbosch en Cradock.

Van die ander belangrike Kaapse silwerware wat nie in die Du Plessis-versameling was nie, het ’n teepot met staander wat Jan Lotter in die vroeë 1800’s gemaak het, R167 100 behaal. ’n Teebussie deur Johan Anton Bunning, gemaak in die vroeë 1700’s, het R83 550 behaal. ’n Suikerhouer op pootjies met ’n ornamentele deksel wat Johan Anton Bunning in dieselfde tyd gemaak het, het R111 400 behaal.

Stephan Welz, afslaer, kundige oor Kaapse silwer en skrywer van die gesaghebbende boek Cape Silver and Silversmiths, A.A. Balkema, Kaapstad, 1976, het aan Die Burger gesê hy was aangenaam verras toe die aanbiedinge al hoe hoër geklim het om oplaas meer as dubbeld die pryse te haal het as waaraan hy gewoond is om op oudhedeveilings te sien.

“Min mense besef werklik hoe skaars en seldsaam hierdie soort voortreflike silwerware eintlik is nie. Dit is veral die groter stukke, wat saam meer as R1 miljoen behaal het, wat nie dikwels op veilings te sien is nie. Trouens, dit is een keer in ’n leeftyd dat so ’n voortreflike aantal Kaapse silwerware op een veiling aangebied word.
“Nog ’n baie belangrike faktor wat die prys beïnvloed het, was dat vier van die stukke ses generasies lank in die besit van die spesifieke Du Plessis-familie was wat nou die einde van hul stamboompad bereik het. Die koffiepot en suikerhouer is in die 1980’s in museumgeledere so belangrik geag, dat dit op posseëls uitgebeeld is. Die Du Plessis-stukke is nou wel nie meer in een versameling nie, maar die kopers is almal jonger mense wat self versamelaars is omdat hulle besonder baie van Ou Kaapse silwer hou en dit nie as ’n belegging gekoop het nie. Die ware sal dus heel waarskynlik twintig tot dertig jaar uit sirkulasie wees.

“As die huidige ekonomiese klimaat in ag geneem word, is die totale prys vir al sewe stukke Kaapse silwer op die veiling, naamlik R1 506 487, werklik buitengewoon en ’n aanduiding dat goeie en seldsame kultuurgoed altyd met die nodige agting en waardering – ook in terme van geld –bejeën sal word.”
Altesame 47 lotte Kaapse silwerware is aangebied, wat R1,97 miljoen behaal het.
J Rig navrae aan Strauss en Kie. by 0 021 683 6560 of e-pos:ct@strauss.co.za.
 

Jewellery Week

Jewellery auctions are held once a year in conjunction with visits by international jewellery expert Joanna Hardy

Subscriptions

If you want to keep abreast of the top end of the SA art market, our catalogues are essential reading.

Videos & Commentary from Stephan Welz

Informative video footage and commentary by Stephan Welz and colleagues.

Stephan Welz

South Africa's leading fine art expert and auctioneer.

Thinking of Selling?

Strauss & Co's team of esteemed experts can help you. Please contact us for an obligation free appraisal.

What is my painting or work of art worth?

Our experts are at your disposal to promptly supply you with estimates.