In the News
2011 Archive
- Oct 01. Pierneef se Karoo van 1930 haal R1 225 400
- Sep 28. Preller se baaiendes behaal miljoen
- Sep 28. Irma Stern's Two Arabs
- Jun 04. Miljoene rande betaal vir Alexis Preller-kunswerke op Strauss-veiling
- May 21. Veiling van Tretchikoff vestig ook aandag op tentoonstelling
- May 15. Geheimsinnige tjellis in Stern se skildery ná 68j. geïdentifiseer
- May 14. Irma Stern se 'tjellis' was superster Vera Poppé
- May 07. Villa se dood 'sal veilingspryse nie opjaag'
- May 07. Strauss auction could reflect shift of emphasis in SA art market
- May 06. Stern Painting to re-emerge at last
- Mar 12. Kaapse silwer haal beste pryse op veiling
- Feb 26. Moses Kottler se makette op veiling te koop
- Feb 25. Versamelaars gaan te veel hê om van te kies by Strauss & Co se Kaapstad-veiling in Maart
- Feb 19. Boonzaier en Baxter gooi reddingsboei na Wenning
Boonzaier en Baxter gooi reddingsboei na Wenning
February 19, 2011 [ Archived ]
Toe die talentvolle Afrikaanse kunstenaar Pieter Wenning (1873-1921) in 1919 soos ook talle ander kunstenaars 'n sukkelbestaan gevoer het omdat betreklik min mense dit kon bekostig om luukses soos skilderye te koop, het hy sy vriend en mede-kunstenaar D.C. Boonzaier, spotprenttekenaar van Die Burger, om bystand gevra. Wenning het in die Vineyard Hotel tuisgegaan en hy kon nie sy huurgeld betaal nie.
Boonzaier, wat dit self nie baie breed gehad het nie, het dr. William Duncan Baxter, na wie die Baxter-teater van die Universiteit Kaapstad genoem word, genader. Baxter was ’n welvarende sakeman, parlementslid en ondersteuner van die kunste. Baxter het hom oor Wenning, toe al 46 jaar oud, ontferm. Een van die skilderye wat Wenning indertyd in Claremont gemaak het, was van die plaas The Grove, wat sedert 1834 aan die sterrekundige, John Herschel, behoort het. Die plaas was ook bekend as Veldhuysen of Feldhausen. Die hedendaagse nabygeleë meisieskool Herschel is na hom genoem. Herschel het die suidelike naghemel van hier af bestudeer en sy teleskool was daar opgestel. Hy het van daar sy studie van Halley se komeet gemaak. Op 3 Junie 1836 het die evolusionaris Charles Darwin besoek aan Herschel gebring.
Wenning se olieverfskildery op doek toon die plaashuis van The Grove met sy wit tuinmuur, asook ander huise met rietdakke. Op die agtergrond is kroondennebome. Die titel van die skildery is “At Claremont, CP”. Die kunswerk, 37,5 cm x 47,5 cm, kom op 7 Maart by die oudhede- en kunsafslaer Strauss en Kie. in die Vineyard Hotel in Claremont – dieselfde plek waar Wenning tuisgegaan het – onder die hamer. Die veilingswaarde word op R1,2 miljoen geraam.
Die kunshistorikus dr. Han Fransen het aan Emma Bedford, senior kunsspesialis van Strauss en Kie., gesê dat die rietdakhuise in die Wenning-skildery tipies 19de eeuse Kaaps-Engelse argitektuur verteenwoordig. Dit is op ’n manier ’n variasie van die Kaaps-Hollandse argitektuur op ’n veel kleiner skaal en met wolfneusdakke in plaas van holbolgewels. Dié argitektuur is betreklik skaars weens die modernisering van die suidelike voorstede van Kaapstad. Daar is darem nog voorbeelde in Wynberg se oudste woonbuurt, Little Chelsea, in die omgewing van die opelugteater.
Nog ’n skildery deur Wenning wat op dieselfde veiling te koop sal wees, beeld ’n toneel in Keeromstraat, Kaapstad, uit. Dit toon onder meer die Kaapse Hooggeregshof en die toring van die Metropolitaanse Metodistekerkie aan Groentemarkplein. Die uitsigversperrende Provinsiale Administrasie-gebou in Waalstraat was toe nog nie opgerig nie. Aan die linkerkant van die skildery is ’n gedeelte van die eerste gebou van Die Burger sigbaar. Dit is oorspronklik vir pro-Boer-koerant The South African News deur Ernst Zeeliger opgerig en is gedurende die Anglo-Boereoorlog deur die Britse owerheid gesluit om te voorkom dat die redakteur, Albert Cartwright, en hulpredakteurs C. Louis Leipoldt en Friedrich Carl Kolbe, die Boere se saak in die openbaar stel. Cartwright is selfs in die tronk gegooi omdat hy die Britse gesag in sy koerant uitgedaag het. Die aangrypende verhaal word in Songs of the Veld and Other Poems, wat in 2008 by Cederberg Publishers verskyn het, vertel.






