In the News
2008 Archive
Kunsafslaer sprei vlerke
August 17, 2008 [ Archived ]
Strauss & Co. is dalk 'n nuwe naam in Suid-Afrikaanse kunskringe, maar die lede van die direksie betrokke by dié nuwe veilinghuis is allermins onbekend: Stephan Welz, Elsabeth Bradley, Conrad Strauss, Francis Antonie en Mary-Jane Darroll.
Strauss & Co. begin vroeg volgende jaar sake doen in Johannesburg en beoog om later ook na Kaapstad uit te brei. Strauss is onder meer die voormalige voorsitter van Stanbic en Standard Bank van SA. Antonie is die voormalige direkteur van Wits se skool vir openbare en ontwikkelingsbestuur en voorstaan besturende direkteur van Strauss & Co.
Bradley is die voorsitter van Wesco Investments, die beleggingsbeheermaatskappy wat onlangs aangekondig het da thy sy oorblywende belang van 25% in Toyota SA aan die Japannese Toyota Motor Corporation (TMC) wil verkoop, en dien as voorsitter van Strauss & Co.
Darroll, tot onlangs verbonde aan die Everard Read-galery in Johannesburg, bring haar ervaring van die kunsbedryf en handel na die nuwe veilinghuis.
Welz, jare lank betrokke by Stephan Welz & Co. in samewerking met Sotheby’s, is alombekend as kundige en afslaer en verteenwoordig tot ‘n groot mate die openbare profile van Strauss & Co.
Die kundigheid wat oor jare in die sake-en kunsveilingsfeer opgebou is, word nou saamgesnoer in dié nuwe onderneming. Die nuwe veilinghuis met ‘n kantoor in Houghton, Johannesburg, beplan om sy eerste veiling van Suid-Afrikaanse kuns in Februarie aan te bied.
“Van die Ou Meesters tot kontemporêre kuns, “is Welz se samevatting van watter sort kuns Strauss & Co. onder die hamer wil kry. Maar hy voeg by: “Kunstenaars wat hul merk gemaak het in die Suid-Afrikaanse kunswêreld.”
Suid-Afrikaanse kuns het die afgelope paar jaar opslae gemaak op velings hier te lande en oorsee met besonder hoë pryse wat behaal is. Maar die afkoelende ekonomiese klimaat het ook ‘n uitwerking op dié bedryf.
“Toe ons begin dink het aan dié nuwe onderneming, “is sê Bradley, “was Suid-Afrikaanse kuns sterk aan die opbloei. Nou is dit dalk nie meer so nie. Maar as jy ‘n nuwe sakeonderneming begin, kyk jy nie na die omstandighede nie. Jy moet jou kan aanpas daarby.”
Die vyf direksielede kom al ‘n lang pad saam. En hulle deel ‘n ywerige belangstelling in die kunste. Welz se pa, Jean Welz, het byvoorbeeld verskeie portrette van Bradley se pa, Albert Wessels, gemaak. En Bradley se ma, Elisabeth Eybers, het ‘n gedig oor Jean Welz geskryf.
Iets waaroor Welz sterk voel, is dat Suid-Afrikaanse kuns in Suid-Afrika verkoop moet word. “Dis ‘n goue reël dat werke die beste verkoop in die land waar dit gemaak is.”
En dit is dié goue reël wat Strauss & Co. wil nastreef.






